

Welkom in ou Pretoria!
As jy belangstel in die geskiedenis en ou foto's van Pretoria, is jy nou op die regte plek!
Wie en wat is Pretoria Historia?
Wat is Pretoria Historia?
Pretoria Historia is 'n gratis aanlyn-tydskrif wat sedert November 2021 op sosiale media (veral Facebook) versprei word aan almal wat belangstel. Die tydskrif is propvol interessante artikels, geskryf deur kenners, oor Pretoria se unieke verlede.
Ons bevorder ook die belange van plaaslike museums en toerisme deur dagbesoeke en werkswinkels te reël en so te sorg dat ons erfenisterreine in die publieke oog bly.
Een van ons mees-gewaardeerde vennote is die ATKV Drakensville oord, en ons reël jaarliks vir ons ondersteuners 'n lekker kultuurtoer om in die berge te gaan kuier. Jy kan hier na ons foto-album van die 2025 toer kyk.
Vir meer inligting, kontak asb vir Riana Mulder by rianamulder@mweb.co.za.
Ons span
Ons pragtige tydskrif se artikels word geskryf deur 'n baie bekwame span navorsers wat dit op 'n vrywillige basis doen. Niemand word betaal nie, maar ons het nooit 'n tekort aan materiaal nie omdat geskiedskrywers besef hoe belangrik dokumentering van geskiedenisstories en historiese inligting is. Pretoria Historia is dus werklik 'n liefdestaak!
Riana Mulder is die eienaar en redakteur en hanteer ook die bladuitleg, sosiale media en algemene bestuur van die besigheid.
Waar kry jy die tydskrif?
Die skakel na die tydskrif word kwartaalliks op Facebook gedeel (gaan sluit gerus aan!). Dit word ook aan 'n lys belangstellendes per epos versprei, en alle ou uitgawes is in ons argief beskikbaar.
Alhoewel ons wel soms die boekie laat druk, is dit baie duur om enkele eksemplare te druk en ons bied dit dus nie te koop aan nie. Jy kan dit egter in PDF-formaat teen 'n geringe bedrag in ons winkel aanskaf, as jy dit sou wou druk of bêre.
Vir meer inligting, kontak gerus vir Riana by rianamulder@mweb.co.za
Ons ander aktiwiteite
Pretoria Historia het noue bande met ander organisasies bv die Tshwane Metro. In samewerking met hulle bied ons maandeliks werkswinkels oor tuinmaak en kruie aan by die Moot Gemeenskapsbiblioteek.
Ons reël ook soms besoeke aan ander plaaslike museums. Uitnodigings word op ons Facebookblad gedeel, en jy kan ook deel word van ons groot Whatsapp-groep as jy wil seker maak dat jy dit nie misloop nie. Skryf gerus vir Riana as jy belangstel.
Ons waardeer ook die ondersteuning van Pretoria FM, en Esmarie Yssel gesels elke Vrydag met Riana oor Pretoria se geskiedenis en ons werksaamhede. Pretoria Historia het ook 'n geskiedenisrubriek in die radiostasie se Nuusweek-publikasie.
Pretoria Historia galery
Ons is lekker bedrywig hier in Pretoria! Hierdie foto's verteenwoordig 'n oorsig van ons aktiwiteite die afgelope paar jaar.

























