
Pretoria se eie 'Victoriaanse' tydperk
Ou inwoners het die Pretoria van die 1870’s en 1880’s beskryf as ’n hegte gemeenskap wat soos een groot familie saamgewoon het. Die atmosfeer het ongelukkig begin verander met die uitbreek van die Eerste Vryheidsoorlog, maar die lewe in Pretoria het tog na die oorlog weer rustig voortgegaan. Die dorp het net ’n meer kosmopolitiese karakter gehad as voorheen.

Die Heys-egpaar met hulle drie dogters in die tuin van Melrosehuis
Die Heysgesin van Melrosehuis

Die invloei van mense en geld vanweë die ontdekking van goud aan die Witwatersrand in die 1880’s het aanleiding gegee tot meer besigheidsgeleenthede in die dorp. ’n Nuwe klas welvarende besigheidsmense het as gevolg daarvan ontstaan. Die gebied rondom Burgerspark, wat ietwat later aangelê is, het skielik in ’n spogbuurt ontwikkel, waar hierdie welgesteldes vir hulle luukse huise gebou het. Die pragtige Melrose House is hiervan waarskynlik die bekendste. Die huis is veral bekend omdat die Vrede van Vereeniging, wat die Anglo-Boereoorlog beëindig. het, op die aand van 31 Mei 1901 daar om die eetkamertafel onderteken is.
Dit was ook tydens die oorlog die hoofkwartier van die Britse magte en is eers bewoon deur lord Roberts en sy gesin, en later deur lord Kitchener.
George en Janie Heys was die eienaars van die huis, wat hulle in 1886 laat ontwerp en bou het. George Jesse Heys is in 1852 in Durban gebore, waar hy later met ’n Engelse meisie, Emma Jane Harris, getroud is. Hy was ’n intelligente en entoesiastiese jong besigheidsman, wat met harde werk en slim beplanning gou ’n fortuin bymekaargemaak het. Teen 1876 het hy reeds ’n stuk grond in Pretoria besit en hy het later ook twee geboue in Pretoria se middestad laat bou (Saxon Chambers en Tudor Chambers).1
Een van sy suksesvolste besighede was die Express Saloon Coaches wat pos en passasiers tussen die kerkplein en Barberton, Kimberley, Charlestown in Natal en Pietersburg vervoer het. Hy het hierdie diens vanaf ongeveer 1882 gelewer, totdat die eerste treinspoor Pretoria in die 1890’s bereik het.
Die huis is tipies van die romantiese Victoriaanse tydperk en is deur die argitek W.T. Vale ontwerp. George en Janie het dit na Melrose Abby vernoem, wat hulle tydens hul wittebrood in Engeland besoek het.2
Elke moontlike moderne gerief van die tydperk is in die ontwerp van die huis ingesluit en dit was ook een van die eerstes in Pretoria wat elektrisiteit gehad het. Later jare was hulle ook van die eerste inwoners om ’n telefoon te kry (hul telefoonnommer was 2). Al die gietysterrelings, meubels en loodglasvensters is ingevoer. In die 1890’s het die Heys-egpaar ’n biljartkamer, ’n moderner kombuis, spens en konserwatorium laat aanbou. Die eetkamer is ook vergroot en sou deur die jare dikwels as ’n onthaalplek en danssaal dien. George Heys het in ongeveer 1890
ook twee aangrensende erwe gekoop waarop ’n koetsiershuisie en stalle gebou is en ’n tennisbaan later aangelê is.
Die Heys-gesin was vriende met baie van die bekende Pretorianers, soos president en mev. Kruger, Jan Smuts en Louis Botha en het hulle dikwels in die huis onthaal. Die goewerneur van die Kaapkolonie, sir Henry Loch, het Pretoria in 1893 besoek en die Heyse het hul huis vir die Lochs beskikbaar gestel. Uit dankbaarheid het die Britse regering daarna aan hulle ’n silwer bak
geskenk, wat nog in die huis te sien is. Hierdie vriendskappe met Afrikaanse leiers het gelei tot
’n ongemaklike situasie vir die Heys-gesin toe Pretoria in 1900 vir die tweede keer deur die Britte ingeneem is, en om te voorkom dat hul huis opgekommandeer word, het hulle besluit om dit vir die Britse regering aan te bied. Die aanbod is dadelik aanvaar. Met lord Kitchener se vertrek uit Pretoria in Junie 1902, het hy die huis aan lord Lyttelton beskikbaar gestel, wat saam met sy gesin daar gewoon het.
Sy vrou was gretig om vriende te maak, maar die inwoners van die stad was nie geïnteresseerd nie – totdat sy begin het om dansklasse vir kinders by die huis aan te bied. Hulle het egter kort daarna na hul nuwe woning in Robert’s Heights (Voortrekkerhoogte) getrek en die Heys-egpaar en hul drie dogters kon weer terugtrek, waarna hulle gou weer hul elegante leefwyse hervat
het. Hulle het ook gereeld oorsee gereis.
George Heys het later die kontrak gekry om Burgerspark net oorkant die straat as ’n botaniese
tuin uit te lê. Die gesin kon dus vanuit hul huis die uitsig oor hul eie tuin en die botaniese tuin geniet.
1 Rekord, “Melrose House – a building rich in history”,
29 April 1988.
2 L. A. Changuion, “Melrose-huis: Gister, Vandag en
More.” Pretoriana nr. 115 , Mei 2002, p. 4
UIt: Deur Dik en Dun- lekker kos en stories uit ou Pretoria (deur Riana Mulder)

Vision
This is a Paragraph. Click on "Edit Text" or double click on the text box to start editing the content and make sure to add any relevant details or information that you want to share with your visitors.
