Die kwartaallikse inval
Pretoria was bekend as ’n rustige dorpie, maar elke kwartaal met Nagmaal het die toneel heeltemal verander. Almal van ver en wyd het met hul ossewaens die dorp ingestroom en op die kerkplein kamp opgeslaan. Vir die plaasboere en hul gesinne was dit ook ’n welkome geleentheid om inkopies te doen en ’n bietjie met vriende en familie te kuier.
Daar is ook produkte soos velle, groente, sakke mielies, ensovoorts, saamgeneem om te ruil vir kontant vir kerkgeld, hoewel die handelaars blykbaar maar suinig met hul kontantgeld was en verkies het om eerder met ander middele te betaal.
Families het gewoonlik teen Donderdag in die dorp aangekom, dadelik uitgespan en hul kamp ingerig. Daarna is koffie gemaak en rondgestap om familie en vriende te groet. Plaaswerkers is saamgebring om net buite die dorp na die osse en vee om te sien.
Vrydag was winkeldag. Die plaasmeisietjies, wat gewoond was aan tuisgemaakte lap- en
strooipoppe, het hulle blykbaar verwonder aan die mooi winkelpoppe, en die seuns se dolosse en visblikwaentjies het maar sleg afgesteek teen die spoggerige dorpspeelgoed.
’n Gesonde wedywering het mettertyd tussen die dorpsjongens en die plaasjapies ontstaan en
allerhande onnutsighede is aangevang, soms tot groot konsternasie van die oumense! Een nag het die dorp se seuns byvoorbeeld die waterkanale om die kerkplein tot reg binne-in die kampplek herlei, sodat feitlik die hele stroom van die Apiesrivier deur die tente gevloei het!
Soms was die eerste kerkdiens al vir Vrydagaand geskeduleer. Saterdag begin die eintlike dienste en vind die aannemings, belydenisafleggings, huweliksbevestigings en gemeentevergaderings plaas. Ná kerk het die oumense gekuier, terwyl die jongeres gesels, grappe gemaak en kore gevorm het om van die gewildste gesange te sing. Jongmense het die geleentheid gebruik om mekaar beter te leer ken, en menige verlowing het na so ’n Nagmaalnaweek gevolg.
Sondag was die eintlike Nagmaalviering, en daarna is ’n kinderdiens en nabetragting gewoonlik gehou. Daarna moes opgepak word, want net na middernag al (’n mens mog nie trek op die Sabbat nie…) begin die eerste waens die terugtog huis toe – soms 20, 30 agter mekaar tot by die eerste uitdraaipad, waar die gesinne een vir een begin afdraai.
Van die mense wat die verste gewoon het, het eers teen die Dinsdag of Woensdag tuisgekom.
1 A.P.B. Breytenbach, “Nagmaaltyd,” Konteks 3(7), Julie
1992, p. 29.
Uit: Deur Dik en Dun- lekker kos en stories uit ou Pretoria, deur Riana Mulder
​