top of page

Een van die beste beskrywings van die destydse Kashangebied was dié van kaptein (later sir) William Cornwallis Harris, ’n Britse weermagoffisier gestasioneer in Indië, wat in 1836 in die streek kom jag het. Hy was ook ’n goeie kunstenaar en het lewensgetroue sketse en skilderye nagelaat van die omgewing, die mense en die diere wat hy teëgekom het.

 

Cornwallis Harris het Mzilikazi ook ontmoet en het met die tipiese Britse meerderwaar-digheid van die tyd nie veel van die 'barbaarse' koning gedink nie. Mzilikazi het met sy besoek reeds by Kapain, sy vesting in die Marico-gebied, gebly. Met sy toestemming het Cornwallis Harris olifante in die Kashanberge gejag, ’n aktiwiteit wat hom ooswaarts gebring het tot waar Pretoria vandag is.

 

Hy beskryf onder andere ’n angswekkende ontmoeting met ’n groep oorlogsugtige Ndebelekrygers. Hulle het eers tot bedaring gekom toe sy metgeselle aan hulle verduidelik het dat hy met die koning se medewete en goedkeuring in die gebied is. Hy het afgelei dat hulle ’n Voortrekkerlaer moes aangeval het, omdat ’n paar van die groot kudde beeste wat hulle besig was om aan te jaag, opgewonde gelyk het om sy ossewa te sien. Later sou hy verneem dat die slagoffers die Erasmustrek aan die Vaalrivier was.

 

Die tipiese Hoëveldse donderstorms het ook ’n groot indruk op die geselskap gemaak, en hulle kon dikwels snags nie slaap nie as gevolg van die lawaai en geweld daarvan.

 

Soos alle jagters van sy tyd, het Cornwallis Harris sonder huiwering gemaai onder die wild wat hy teëgekom het. Hoewel hy daardeur kos aan sy geselskap en helpers voorsien het, was daar ook baie gevalle waar hy wild soos bokke, olifante en renosters geskiet het bloot omdat hy kon. Hy verklaar self dat hy meer as 400 soorte grootwild tydens sy reis geskiet het. Van baie het hy trofeë geneem, en hy was ook die eerste Europeër wat ’n swartwitpens (Hippotragus niger) geskiet het. Die bok is later die Harris Antelope genoem. Hy het die vel en ander oorblyfsels laat opstop en Londen toe gestuur, waar dit in die Britse Museum uitgestal is.

 

In 1844 is sy boek The wild sports of Southern Africa: being the narrative of an expedition from the Cape of Good Hope, through the territories of the Chief Moselekatse, to the Tropic of Capricorn in Londen gepubliseer, en ’n paar keer herdruk.

 

Cornwallis Harris se noukeurige beskrywings en sketse word as ’n waardevolle toevoeging tot

Suid-Afrika se historiese bronne oor die tydperk beskou.

 

 

1 W. Cornwallis Harris, The wild sports of Southern

Africa: being the narrative of an expedition from

the Cape of Good Hope, through the territories of

the Chief Moselekatse, to the Tropic of Capricorn

(London, J. Murray, 1839), p. 103.

 

Uit: Deur Dik enDun- lekker kos en stories uit ou Pretoria, geskryf deur Riana Mulder

William_Cornwallis_Harris00.jpg

Sir William Cornwallis Harris

  • Facebook
bottom of page