top of page

Die Skotse sendeling, Robert Moffat

’n Teësinnige beskermheer

 

 

Portret van Robert Moffat in sy latere lewe

 

Foto: Wikipedia Commons

​

​

 

Daar is al baie geskryf oor die sendeling Robert Moffat se vriendskap met Mzilikazi, maar uit sy eie weergawe daarvan is dit duidelik dat die sogenaamde vriendskap redelik eensydig was, en dat hy homself nooit toegelaat het om regtig enige toegeneëntheid vir die Matabelekoning te ontwikkel nie.

 

Daarvoor was die kultuurverskille net té groot.

 

Mzilikazi se genadelose manier van heers het Moffat, ’n stoere Skot en Christen, teen die bors gestuit en hy het nie gehuiwer om gereeld sy opinie daaroor te lug nie. Mzilikazi se respek vir Moffat blyk egter duidelik uit die wyse waarop hy hierdie kritiek sonder enige negatiewe reaksie verduur het, en ook uit die feit dat hy by geleentheid veroordeeldes begenadig het uit bedagsaamheid teenoor sy besoeker.

 

Net soos McLuckie en Schoon was Moffat verras deur sy gasheer se sjarme en intelligensie en die ordelikheid van die Matabele-leefwyse het hom beïndruk. Volgens hom was die mense vriendelik, hardwerkend en gedissiplineerd.

 

Teen die tyd dat die Schoon-geselskap met hul belangrike Matabele-metgeselle die Kurumansendingstasie bereik het, was Moffat al goed daar gevestig en het hy reeds die respek van die plaaslike inwoners verdien. Hy het meer as net sendingwerk onder hulle gedoen. Hy was vader en vriend, en het hulle ook gehelp om hulself teen die aanvalle van die vyandige volke rondom hulle te verdedig.

 

Robert Moffat was ’n talentvolle man wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Met die hulp van sy vrou, Mary, het hy met harde werk en groot deursettingsvermoë ’n oase in die dorre landskap geskep. By Kuruman het hy ook die eerste vertaling van die Bybel in ’n Afrikataal gedoen, en dit later self gedruk.

 

Die Matabele-besoekers was verstom en oorweldig deur alles wat hulle op Kuruman gesien en beleef het. Moffat self het hulle met groot respek behandel engetrakteer soos hy met enige ander hooggeplaaste sou doen. Die ander inwoners van Kuruman het hulle egter wantrouig aangestaar, asof hulle wesens van ’n ander planeet was. Moffat was natuurlik deeglik bewus van die magtige Matabele-nasie in die noorde, maar het self in daardie stadium nog geen kontak met Mzilikazi gehad nie.

 

Nadat die twee besoekers alles gesien het en begin dink het aan die terugreis, het hy egter besef dat hul lewens waarskynlik in gevaar sou wees as hulle nie onder sy beskerming was nie, en hy het uiteindelik teësinnig besluit om hulle op ’n deel van die reis te vergesel. Veral nadat die twee dit ook duidelik gemaak het dat Mzilikazi nie gelukkig met hulle sou wees as hulle sonder hom tuiskom nie!

 

Op 9 November 1829 vertrek die geselskap dus uit Kuruman en tien dae later probeer Moffat sy

metgeselle oorhandig aan Mokgatla, die hoof van die Bahurutse, met die versoek dat hy hulle moes help om veilig tuis te kom. Hiervan wou die twee gesante egter niks weet nie.

​

Moffat, goeie Christen, kon dit nie oor sy hart kry om hulle aan hul koning se genade oor te laat nie, en weer eens – teësinnig – besluit hy om maar saam te gaan. Hy was heimlik ook bekommerd dat ’n groot oorlog weer ontketen sou word as die gesante langs die pad iets sou oorkom.

 

Tydens die reis het Moffat ’n dagboek gehou van sy ondervindings en alles wat hy gesien het. Veral die laaste deel van die reis het hom diep geraak, en hy beskryf veral die verlatenheid en vernietiging wat die Matabele in die Kashangebied agtergelaat het. Hy skryf onder meer:

 

On the sides of the hills and Kashan Mountains were towns in ruins, wherethousands once made the country alive, amidst fruitful vales now covered with luxuriant grass, inhabited by

game. The extirpating invasions of the Mantatees and Matabele had left to beasts of prey the undisputed right of these lovely woodland glens.1

 

 

 

1 R. Moffat, Missionary Labours and Scenes in

Southern Africa (Cambridge, Cambridge University

Press, 1842), p. 518.

 

Uit: Deur Dik en Dun- lekker kos en stories uit ou Pretoria, deur Riana Mulder (2018)

Robert_Moffat.jpg
  • Facebook
bottom of page